top of page

Hulp met jou troudag tydlyn

‘n Trou tydlyn kan mens lekker deurmekaar maak veral as jy nog nooit een moes doen nie, selfs al woon jy troues by let mens nooit so in detail op hoeveel tyd sekere dinge opneem van die dag nie. In hierdie post sal ek so bietjie lig op die saak probeer skyn en julle help.

Eerstens , jou tydlyn is nie in klip gegraveer nie, dis net ‘n rowwe riglyn – nog nooit in al die troues wat ons al afgeneem het het alles tot op die minuut uitgewerk nie, en dis nie nodig nie. Maar dis uiters belangrik om ‘n struktuur te hê.

Alhoewel die tradisie lui dat die bruid ‘n paar minute laat moet wees – hou ingedagte dat hoe later jy is hoe verder skuif jou tydlyn aan en van daar is alles dan ‘n gejaag.

Tweedens, is dit belangrik om te onthou dat ek uit ‘n fotograaf perspektief skryf en ander verskaffers dalk van my kan verskil maar ek sal probeer om almal in ag te neem met my post.

Wanneer jy gaan sit met jou tydlyn, dink aan lig, maak seker jy weet wanneer die son onder gaan en beplan rondom dit – jy sal nie spyt wees om jou couple fotosessie rondom sononder te skeduleer nie. Besluit wanneer jy wil hê jou troudiens moet begin en beplan terug & vorentoe daarvanaf. ( vir winter troues – moet nie jou diens later as 15:30 begin nie, somertroues – nie later as 17:00 nie)

1. Voorbereiding/aantrek:

Die eerste persoon met wie jy moet praat wanneer jy jou tydlyn begin is jou haar & grimeering span. Afhangend van hoeveel mense hulle moet stileer & die moeilikheidsgraad sal hulle jou kan sê hoe lank hulle gaan besig wees. Los genoeg tyd in jou tydlyn hiervoor. (+ -1 uur per item , per persoon ). Neem alles in, klink 'n glasie sjampanje en geniet die tydjie saam met jou meisies!

Tip: Laat jou bruidsmeisies eerste klaar maak. Hulle moet ge"dress" en ge"press" wees teen die tyd dat jy wil aantrek – dit maak stunning fotos as almal mooi dieselfde lyk in hulle bruidsmeisie rokkies en jou help.

2. Fotograaf:

Ek, as fotograaf hou daarvan om eerste met die dekor te begin – maak seker jou dekor mense sal klaar wees wanneer jou fotograaf by die venue begin. Wanneer kom jou fotograaf na die bruid toe? Die ideale tyd hiervoor is wanneer jy reeds geprep is vir die grimeering (reeds onderlaag op het), die fotograaf sal dan begin met jou skoene, juwele, parfuum ens en dan genoeg tyd hê om nog jou finale haar & grimering "touch ups" te vang.

Tip: Sorg dat die kamer mooi netjies is en alles op sy plek is – dit maak baie mooier fotos. ‘n Kamer wat lekker baie natuurlike lig het is ‘n groot bonus.

3. Los genoeg tyd:

Al wat jy gaan oorhou van jou troue is jou fotos. Hoe meer tyd jy jou en jou fotograaf gee hoe gemakliker gaan jy wees en hoe minder druk is op jul albei.

• Los ten minste 30-40minute na jou rok aan is vir bruidsfotos asook saam met jou bruidsmeisies.

• Die bruidegom en sy manne is gewoonlik baie makliker omdat hulle minder tierlantyntjies het as ons dames ;) 20-30 minute is genoeg vir hulle.

• Vir dekor verkies ons persoonlik tussen 30-45minute om rustig al die klein details van jou dag te kan afneem

•Familie Fotos – maak seker jy stel iemand in jou of die bruidegom se familie aan om mense te identifiseer en bymekaar te kry – maak ‘n lysie , die dag gaan so gou verby en dis maklik om iemand te vergeet. 30minute is gewoonlik genoeg hiervoor as dit georganiseerd is.

• Couple fotos – Ek sê altyd vir my bruide dat hierdie die fotos is wat op hulle muur gaan kom – ‘n uur voor sononder is die perfekte tyd hiervoor – die mooiste sagte lig daardie tyd van die dag. Los tenminste 45minute tot ‘n uur hiervoor.

4. Die onthaal:

•Praat met jou caterer, dis noodsaaklik dat hulle jou tydlyn het om warm kos te verseker wat op tyd reg is.

•Indien jy gedruk is vir tyd of net al die formaliteite agter die rug wil kry sodat die party kan begin is dit ‘n goeie idee om jou toesprake te begin terwyl die mense smul aan voorgereg – maak seker elke persoon wat ‘n toespraak maak weet wat die tydlyn is hiervoor.

•Voor of direk na hoofgereg kan julle die dansbaan open – maak seker jou DJ weet wanneer julle beplan om die vloer te open en op watter liedjies. Dis ‘n goeie idee om sommer jou ruiker en kousband gooi hierby intesluit, dan kan die mense lekker dans sonder enige verdere onderbrekings.

•Net voor nagereg is gewoonlik die ideale tyd om die koek te sny, na die koeksny is al jou formaliteite afgehandel.

•Maak seker die paket wat jy by jou fotograaf boek sluit genoeg ure in om al jou formaliteite op kamera vas te lê voor hulle jou verlaat.

Alle fotos verskaf deur Miss Cee Photography


Recent Posts
bottom of page