Verlowing/Couple Inspirasie - Rockabilly Styled
Ons is so opgewonde om vandag met julle Jorika & Calvin se "couple" fotosessie te deel. Hulle het ook vir ons so bietjie van hulle oulike storie vertel
Mense vra altyd die vraag hoe en waar het julle ontmoet?
Ons antwoord op die vraag is vir ons baie spesiaal omdat dit so amper nie kon gebeur het nie.
Op die aand van 2 November 2013 het ons by dieselfde dansplek opgeëindig. Jorika was saam 'n hennepartytjie (waarheen sy amper nie gegaan het nie) en Calvin was saam met vriende (hy het amper ook nie gegaan nie.)
Soos elke storie twee kante het, so verskil ons weergawes ook.
Jorika sê syt net daar gestaan en die mense gekyk toe Calvin later haar vra vir 'n dans waar Calvin volhou dat Jorika vir hom meer as eenkeer geglimlag het.
Wat wel waar is is dat na ons eerste dans saam het Calvin in mense vasgeloop omdat hy seker effe te ernstig gestaar het.
Een dans het toe heelaand verder geraak. Die aand het laat geraak en die hennepartytjie wou huistoe.
Calvin het elke keer net gesê kom ons dans nog net een liedjie asseblief.
Die een liedjie moes toe ophou seker 6 liedjies later toe Jorika se vriendinne al wou huistoe gaan.
Tussen deur die dans is name uitgeruil maar al wat Jorika gehoor het was Alvin en sy was te skaam om weer te vra om seker te maak.
Calvin of volgens Jorika, Alvin het sy nommer vir Jorika gegee voor sy moes huistoe gaan. Sy moes toe net daar en dan sy nommer bel sodat hy net 100 persent seker is hy het die regte nommer.
Die belofte van laatweet my asseblief jys veilig by die huis was iets wat Jorika laat dink het hierdie Alvin is anders as ander.
Die tye van na die ontmoeting tot nou is onmoontlik om in woorde om te sit. Vinnig het 'n hegte vriendskap gevorm en elke dag gesels was net 'n moet. Jorika het eers nie belanggestel nie maar na 'n naweek ver weg het dinge verander.
Calvin het moed bymekaar geskraap en begin beplan aan n manier om Jorika uit te vra. Die eindresultaat was 'n wenner, 'n tafel gedek met haar gunsteling blomme, seekosplatter en kerse het gewag toe sy die 2de Mei 2014 van die werk af by die huis gekom het.
Daar het ons storie as n paartjie begin.
Ons is defnitief gefokus op ons as 'n paartjie en leer gereeld nuwe dinge van mekaar. Ons is altyd onsself en hou nie van die idee om soos ander te wees nie.
Ons het natuurlik 'n groot liefde vir dans en geniet ook om saam te oefen, motorfiets te ry, springmielies te eet, fliek te kyk en natuurlik om soveel as moontlik saam te lag. Grondpaaie ry is altyd 'n moet en stop stop ry is net so normaal.
Ons probeer graag gereeld nuwe dinge doen en saam ontdek.
Ons het die fotosessie vreeslik geniet en moet sê ons het onsself verloor in die tema en gou baie gemaklik geraak voor die kamera.
Ons kon nie ophou lag nie en het die spesiale oomblik saam aangepak en gedeel. Dit is defnitief 'n moet vir enige paartjie en is so maklik om te doen want al wat nodig is is om net te wees wat jul as 'n paartjie is.
Dit vang daardie spesiale oomblikke wat mens gewoonlik wens jy kon vasvang vas
Fotografie deur : Miss Cee Photography Hare & Grimering deur Make Up Madonna Stileering & Props deur Strawberry Lace